023 316 2021/3

VOLG ONS

SAPD-lede beseer in ongeluk na hul oor rooi lig jaag

December 10, 2015
SAPD-lede beseer in ongeluk na hul oor rooi lig jaag

DRIE polisiebeamptes is Sondag 6 Desember beseer nadat hulle teen hoë spoed teen ‘n silwer Toyota Yaris gebots het.

Die ongeluk het omstreeks 12:30 plaasgevind by die verkeerslig by die kruising van Voortrekker- en Owenstraat op Ceres.

Volgens ‘n mediawoordvoerder is drie polisiebeamptes, kst. Danton Bradley Darrius, reservis konstabel Adré Lottering en sers. Moshoana  Ronald Lebese beseer. Beide Darries en Lottering is na Netcare Ceres hospitaal geneem en later oorgeplaas na Worcester Mediclinic en Eben Donges hospitale. Darrius is in die intensiewe sorgeenheid behandel. Lebese is by Netcare Ceres hospitaal behandel en later ontslaan.

Volgens ooggetuies het die twee polisievangwaens in Voortrekkerstraat teen hoë spoed aangejaag gekom. Die eerste voertuig is oor die rooi verkeerslig met die tweede SAPD-voertuig kort op sy hakke. Die tweede SAPD bakkie is ook deur die rooi verkeerslig toe dit die Yaris van Elbe Woeke, Humberto Cardoso se skoonma, skrams getref het. Die bestuurder, sers. Lebese, het hierna beheer oor die dubbelkajuit bakkie verloor, gerol en teen ‘n lamppaal en die venster van Autozone tot stilstand gekom.

Woeke het vanuit Owenstraat oorgery na Ceres Spar terwyl Pierre de Jager regs wou draai in Voortrekkerstraat. De Jager het sy planne op die ingewing van die oomblik verander om nie huistoe te ry nie maar eerder regs te draai om iets anders in die dorp te gaan koop. Hy moes wag dat Elbe Woeke eers oor die groenlig kon ry voordat hy kon draai. Die besluit het moontlik sy lewe gered anders sou die polisiebakkie hom op die bestuurderskant getref het.

Waarskuwing

Bestuurders van noodvoertuie van die polisie, ambulansdienste asook die brandweer moet uiters versigtig wees wanneer hulle kruisings, verkeersligte en stopstrate nader al is hulle sirenes aan. Die aansit van sirenes is nie ‘n verskoning om alle padreëls te verontagsaam nie en die veiligheid van ander padgebruikers en voetgangers moet ten alle tye in ag geneem word.

 

' .