023 316 2021/3

VOLG ONS

Polisie vang Gerber sr. in Oos-Kaap

February 13, 2016
Polisie vang Gerber sr. in Oos-Kaap

‘n BEDRIEER van Ceres wat sedert 2014 talle boere en onskuldige huishuurders ingeloop het met meer as R400 000, is deur die polisie in Port Elizabeth vasgetrek.
Die vermoede bestaan dat ‘n familielid die polisie in kennis gestel het waarna hulle Deon Gerber (48) gearresteer het. Gerber is laat verlede week vasgetrek, ‘n week nadat hy gevlug het. Hy is oor die naweek na Ceres gebring waar hy Maandag 8 Februarie vlugtig op klagtes van ontvlugting asook twee bedrogklagtes wat verband hou met die uitverhuur van ‘n woonhuis in Cilliersstraat, verskyn het. Nog drie klagtes is intussen aangemeld by Ceres SAPD en sal die polisie Gerber daarvoor aankla en dit by die ander twee klagtes voeg.
Die landdros het sy borg van R1000 verbeurd verklaar en hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 1 Maart.
Gerber was saam met sy seun, Francois (29), uit op borgtog op twee sake waar hulle ‘n gehuurde voertuig aan twee Nduli inwoners wou verkoop vir onderskeidelik R22 000 en R10 500. Die Gerbers het R8500 al ontvang.
Nuutste ondersoek
Vyf van die klagtes hou verband met die onregmatige uitverhuur van ‘n woonhuis in Cilliersstraat, Ceres. Dit is dieselfde huis wat hy deel met sy saamleef vrou en seun. Die huis word deur die vrou gehuur.
Die afgelope tyd het Gerber sr. ‘n advertensie op winkels se kennisgewingborde geplaas dat hy ‘n huis en motorhuis het om te verhuur en dat hy die eienaar is daarvan. Wanneer die mense, almal dringend opsoek na huurhuise, navraag doen, vat hy ‘n deposito. Hy gebruik o.a. die vals naam van Johan Wagenaar.
Ander sake
Deon Gerber het ook op 11 November 2015 saam met sy seun, Francois Gerber (29), in die Ceres landdroshof verskyn nadat hulle in Oktober 2015 ‘n gehuurde motor aan twee Nduli inwoners wou verkoop.
Die Gerbers was ten tye van die oortredings uit op borgtog van R5000 weens streekhofsake van bedrog en diefstal op Ceres, Wolseley en P.A. Hamlet.
Die landdros het Maandag 8 Februarie Gerber sr. se borg van R1000 verbeurd verklaar en bly hy in aanhouding by Warm Bokkeveld korrektiewe dienste tot sy volgende verskyning op 1 Maart. Gerber jr. is nog uit op R1000 borgtog en beide moet weer op 3 Maart in die hof verskyn. Gerber jr. se borg is deur sy ma betaal en Gerber jr. het weer op sy beurt sy pa se borg betaal.
Agtergrond
Die pa en seun het hulself einde Februarie 2014 aan die Ceres polisie oorgegee nadat hulle vir maande op die vlug was en ondermeer in Gauteng en op Jeffreysbaai ‘n draai gemaak het. Hulle het tot middel Desember 2013 onder die naam Forklift Services kontrakteurswerk vir plaaslike besighede gedoen voordat hulle verdwyn het.
Die twee het trekkers en vurkhysers van plaaslike boere en sakelui wat herstel moes word, verkoop aan niksvermoedende inwoners. Hulle het ook vurkhyser- en trekkeronderdele onwettig verkoop. Gerber jr. het ook ‘n bakkie gekoop en net ‘n paar paaiemente betaal voordat hy opgehou betaal het. Hy het later die bakkie onwettig verkoop.
Meer as 20 sake word teen die mans ondersoek en die saak word op 3 Maart in die Ceres streekhof verhoor.