023 316 2021/3

VOLG ONS

Eis gaan belastingbetalers miljoene rande kos

February 20, 2016

DIE regspan van ‘n gestremde weeskind wat in 2009 in Dennebos vakansieoord verkrag is, eis nou R1.4 miljoen van die Witzenberg munisipaliteit.
Die meisie is jare gelede deur twee Suid-Afrikaanse sendelinge uit haglike toestande in Bulgarye gered.
In die Hooggeregshofaksie vra haar regspan dat die Witzenberg munisipaliteit aanspreeklik gehou word nadat sy verkrag en seksueel aangerand is op die muurbalbane van die Dennebos vakansieoord terwyl sy en haar ouers met vakansie daar tuisgegaan het in 2009.
Twee mans van Ceres, nou onderskeidelik 19 en 21 jaar oud, is in 2010 skuldig bevind.
Streeklanddros Nomawethu Smile het in 2011 die twee, wat in daardie stadium minderjarig was, gevonnis tot 36 maande korrektiewe toesig. Hulle is ook 5 jaar gevangenisstraf opgelê wat in die geheel opgeskort is.
Die munisipaliteit wil egter nou nie in die siviele aksie erken dat die insident plaasgevind het nie, alhoewel die Witzenberg munisipaliteit wel bereid is om te erken dat die twee destyds skuldig gepleit het op die klagtes.
Die Hooggeregshofsaak het Dinsdag 16 Februarie begin met ‘n inspeksie in Dennebos en by die muurbalbane waar die voorval plaasgevind het. Die eerste getuies sal Woensdag 17 Februarie geroep word om te getuig.
Die aangeleentheid het ‘n lang geskiedenis
Op 20 Januarie 2009 het die slagoffer in die parkie in die Dennebos gaan speel en in die enkele oomblik wat sy nie onder haar ouers se wakende oog was nie, verdwyn. Slegs haar skoene en rugsak is langs die springmatte gevind.
Na ‘n soektog, het haar ouers haar by die muurbalbane gevind waar sy op haar eenvoudige manier verduidelik het dat sy verkrag is.
Advokaat Murray Bridgeman is as kurator ad litem namens haar in Suid-Afrika aangestel en het namens haar die regsaksie ingestel waarin ‘n bedrag van R1.4 miljoen skadevergoeding van die Witzenberg munisipaliteit wat die Dennebos besit, beheer en bestuur, eis.
Behalwe die skadevergoedingseis gaan die Witzenbergbelastingbetalers ook nog miljoene rande opdok aan regskostes.
Regsadvies word tans ingewin om te bepaal of die twee jong mans se name (wat in hofdokumente genoem word) en hul fotos gepubliseer mag word en of hulle name in 2011 deur die streekhof op die seksuele oortredingsregister aangeteken is.