023 316 2021/3

VOLG ONS

Tweede gru-moord ruk gemeenskap

March 12, 2016

DIE Witzenberg gemeenskap is vir die tweede keer binne drie weke geskok deur ‘n gru-moord op ‘n plaas.
Drie weke gelede is ‘n jong meisie op die plaas Vastrap meer as 18 keer met ‘n mes gesteek waarna haar moordenaar later selfmoord gepleeg het deur homself in ‘n dam te verdrink.
Nou het nog ‘n vrou gesterf, die keer op Wadrif, nadat haar man haar na bewering met ‘n stomp voorwerp doodgeslaan en haar liggaam in twee gesny het. Hy het ook later selfmoord gepleeg.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder is Ellen Khunjulwa Dase verlede week as vermis aangemeld.
Polisielede asook die honde-eenheid het Woensdag op 2 Maart na haar begin soek en later haar liggaam in ‘n boord opgespoor waar dit in ‘n stroompie water gelê en met rotse toegepak was.
Die verdagte, Vula Mfokwana (42), het na die voorval steeds op die plaas gewerk maar het verlede Saterdag skielik verdwyn kort nadat hy vir ‘n vriend gesê het hy gaan selfoonlugtyd koop.
Die polisie het vermoed dat Mfokwana Oos-Kaap toe gevlug het maar later die week bevestiging gekry dat hy homself in die Villiersdorp omgewing opgehang het.
Verkragting
In nog ‘n skokkende voorval is ‘n 6-jarige meisie op P.A. Hamlet verkrag.
Die voorval het op 2 Maart omstreeks 17:45 plaasgevind toe die verdagte haar die bosse by Fase 5 ingesleep en verkrag het. Sy het daar naby saam met haar maatjie gespeel.
Volgens die polisie is ‘n 25-jarige verdagte, Mario Baardman ook bekend as Wimpie, in verband met die voorval inhegtenis geneem.
Moord
Twee mans van die plaas Sandrivier was die naweek in ‘n argument betrokke. Dit is nnie bekend waaroor die stryery gegaan het nie.
Polaki Selo (39) het Sondag 6 Maart omstreeks 01:19 gesterf kort nadat hy vir Leteketa Moyhibeli (33) met ‘n mes gesteek.
Moyhibeli het Selo toe met ‘n groot klip teen sy (Selo) se kop gegooi en het hy op toneel gesterf.
Moyhibeli is gearresteer en het reeds vlugtig in die Ceres landdroshof verskyn.
Kommentaar
Volgens die LPP vir die Witzenbergstreek, James Vos, moet polisiëring in die Koue Bokkeveld geprioritiseer word en is 120 plase geregtig op ‘n beter bemande en toegeruste polisiekantoor. Tans word die diens van PAH gelewer wat meer as ‘n halfuur se ry weg is daarvan.
Weens die gebrekkig toestand op Op-die-Berg SAPD en dat landelike veiligheid belangrik is, het Vos die parlement versoek om ondersoek in te stel na ontoereikende hulpbronne, personeeltekorte en die hoë vlak van misdaad, veral in seisoentyd.

 

 DIE polisie se forensiese afdeling op die moordtoneel waar 'n man sy vrou met 'n stomp voorwerp doodgeslaan en haar liggaam in twee gesny het.


DIE polisie se forensiese afdeling op die moordtoneel waar ‘n man sy vrou met ‘n stomp voorwerp doodgeslaan en haar liggaam in twee gesny het.