023 316 2021/3

VOLG ONS

Advokaat in Premier se kantoor, gearresteer

April 4, 2016

DIE SAPD het ‘n hoë profiel amptenaar van die Premier van Gauteng se kantoor, Dinsdag op Ceres gearresteer op drie klagtes wat verband hou met ‘n beweerde dronkbestuurvoorval.
Die polisie het ‘n klagte van ‘n bekommerde inwoner opgevolg toe hulle omstreeks 01:00 die voertuig van adv. Monwabisi Nguqu (44), in Chris Hani rylaan, Nduli opgemerk het. Hy is gearresteer nadat hy na bewering onder die invloed van drank of dwelms ‘n voertuig bestuur het, asook verset teen arrestasie en ontvlugting of poging tot ontvlugting vanuit aanhouding.
Adv. Nguqu, ‘n direkteur van staatswette in Gauteng premier, David Makhura, se kantoor, is in die polisieselle aangehou voordat hy Dinsdag na die hofselle geneem is vir sy hofverskyning.
Nguqu is oor die middaguur op borg van R1000 vrygelaat. Hy is later by die polisiestasie opgemerk waar hy die stasiebevelvoerder, kol. Solly Williams, gesien het. Hy is omstreeks 16:00 saam met ‘n onbekende vrou daar weg wat geduldig vir hom gesit en wag het.
Kommentaar
Navrae en kommentaar oor die voorval is aan die Wes-Kaap Direkteur van Openbare Vervolging, adv. Rodney de Kock asook die Wes-Kaap DOV mediawoordvoerder, Eric Ntabazalila, gestuur. Daar is net bevestig dat adv. Nguqu in die Ceres landdroshof verskyn het.
Thabo Masebe, woordvoerder van die Gauteng premier se kantoor, het gesê dit is ‘n privaataangeleentheid en dat adv. Nguqu nie vir amptelike redes, op Ceres was nie.