023 316 2021/3

VOLG ONS

Gewese werker 8 jaar agter tralies

May 23, 2016

‘n ALGEMENE werker wat net een dag vir ‘n plaaslike bouer op ‘n bouperseel gewerk het, is verlede week op Calvinia skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.
Jan van Zyl, ‘n bouer van Ceres en inwoner van P.A. Hamlet, is op 2 Junie 2014 in ‘n Kaapse hospitaal opgeneem met ‘n gebreekte kakebeen en ernstige kopbeserings nadat hy vroeër die dag op ‘n Karooplaas buite Ceres, met ‘n graaf teen die kant van sy kakebeen geslaan is.
Die voorval het omstreeks 16:15 op die plaas Elandsvlei, ongeveer 150km van Ceres, plaasgevind.
Keith Franklin van Rooi (36) van Bella Vista, het in die Calvinia streekhof verskyn op klagtes wat wissel van aanranding met die opset om ernstig te beseer, roof, diefstal van motorvoertuig, opsetlike saakbeskadiging en die bestuur van motorvoertuig sonder ‘n lisensie.
Die verhoor het op 9 en 11 Mei in die Calvinia streekhof plaasgevind waarna streeklanddros Mbalo hom effektief vir 8 jaar tronk toe gestuur het. Hy is skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.
Dag se gebeure
Nou byna twee jaar na die voorval het Jan van Zyl vir die eerste keer oor sy traumatiese ondervinding gepraat.
Volgens Jan het Keith Franklin van Rooi die betrokke dag vir die eerste keer as algemene werker kom werk. Sy personeel het die dag ‘n paar keer gekla dat Van Rooi met mede-werkers skoorsoek en moeilikheid maak.
Van Zyl het tussenbeide getree nadat Van Rooi ‘n grinder se kabel met ‘n graaf afgeslaan het. Hy het vir hom gesê hy moet weggaan en onder ‘n boom gaan sit en wag.
Jan sê hy het sy rug op die groep gedraai en weggestap. Hy was skaars tien treë weg toe Van Rooi hom van agter met die skerpkant van die graaf geslaan het. Volgens die dokters wat hom opereer het, was hy gelukkig om sy kop instinktief voor die impak, weg te draai anders was hy beslis dood.
Van Rooi het o.a. R200 uit Van Zyl se beursie gesteel, asook ander los goed, en in ‘n trokkie gespring en weggejaag. Nog voordat hy die Calvinia/Ceres grondpad kon bereik, het hy die trokkie omgegooi. Hy het hierna weggehardloop.
Werkers op die bouperseel het die bure gebel vir hulp. ‘n Buurman het vir Jan na die Tankwa padstal geneem waar hy deur Johan Matthee opgelaai is en na die hospitaal gehaas is. Die twee het die verdagte langs die pad sien loop maar verbygery.
Op pad terug na die plaas het die buurman oor sy tweerigtingradio gehoor die polisie is by die omgeslane trokkie en het hy weer vir Van Rooi langs die pad gesien loop. Hy het gestop en gesê hy kan maar agter inklim.
Die buurman het kort hierna by die omgeslane trokkie en polisie gestop. Van Rooi het uitgespring en weggehardloop maar is gou vasgetrek en gearresteer.