023 316 2021/3

VOLG ONS

Skelm sakeman kry borg

June 12, 2016

NA meer as twee maande in aanhouding op George en op Ceres, is ‘n sakeman van George Maandag op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Gabriel Edward (Abri) Steenkamp (49), het die afgelope jaar talle mense in die Witzenbergstreek asook George en Oudtshoorn ingeloop met derduisende rande. Hy is Maandag 6 Junie na ‘n kort borgaansoek in die Ceres landdroshof, vrygelaat nadat ‘n vriend, Johan Lindeque, sy borg en prokureurskoste betaal het.
Steenkamp is deur landdros Hambrock gewaarsku om stiptelik 08:30 op 13 Julie in die Ceres landdroshof te wees. Hy moet ook die ondersoekbeamptes onmiddelik in kennis stel indien hy van adres verander.
In die borgaansoek het dit ook bekend geword dat Steenkamp in 2008 in die Paarl skuldig bevind was vir bedrog.
Vorige verskyning
Steenkamp is Dinsdag 24 Mei kort nadat die klaer van George die saak teen hom teruggetrek het, deur polisielede van Ceres en P.A. Hamlet ingewag en op bedrog- en diefstalklagtes in hegtenis geneem. Hy het Woensdag 25 Mei vlugtig in die hof verskyn voordat die saak na Maandag uitgestel is.
Steenkamp het ook Vrydag 10 Junie in die Stilbaai landdroshof verskyn.
Agtergrond
Abri Steenkamp het tot voor sy arrestasie, op George in ‘n huurhuis gewoon, maar is ‘n oud-Ceresiet en ‘n oud-korrektiewedienste-amptenaar. Hy het oor die jare baie mense met derduisende rande ingeloop maar baie het nooit dié misdrywe by die polisie aangemeld of sivielesake teen hom gemaak nie. Mense is ook al op die verbruikerswebtuiste Hellopeter, teen Steenkamp gewaarsku.
Tot en met sy inhegtenisname in Maart 2016 op Riversdal, het hy onverpoos voortgegaan met sy skelmstreke. Nou het dié streke hom ingehaal.
Gerugte doen ook die rondte dat sy vrou, ‘n musikant van George, van hom gaan skei. Die veelbesproke boormasjien waarmee hy voornemende boorgateienaars in die streek ingeloop het, is ook verkoop.

 

 ABRI Steenkamp (49).


ABRI Steenkamp (49).