023 316 2021/3

VOLG ONS

Polisie trek sluier oor ontvoering-ondersoek

June 27, 2016

DIE Ceres polisie wou verlede week glad nie kommentaar lewer oor die vordering van hul ondersoek na die beweerde ontvoering van ‘n 16-jarige leerder nie.
Al wat die polisie wou sê is dat nuwe inligting ontvang is en dat die polisiedossier na ‘n aanklaer gestuur is vir ‘n beslissing. Wat die nuwe inligting behels, kon nog nie vasgestel word nie en die polisie wou ook nie meer hieroor sê nie.
Daar is vroeër berig dat ‘n 16-jarige leerder van Ceres Sekondêr op Dinsdag 31 Mei omstreeks 16:00 deur twee mans oorkant die Spar winkelsentrum in Owenstraat, opgelaai is terwyl sy op pad huistoe was. Sy is na bewering die volgende oggend naby die Charlie Hofmeyr seunskoshuis afgelaai.
Die polisie het toe in ‘n verklaring wat op 2 Julie uitgereik is, bevestig dat hulle so voorval ondersoek en dat die meisie nie beseer is nie. Twee mans het haar vermoedelik een of ander verdowingsmiddel ingegee. Sy is later na die Ceres hospitaal geneem vir ‘n roetine medieseondersoek en om vas te stel of sy ‘n verbode middel ingekry het. Die polisie se forensiese-afdeling behoort later die uitslag van toetse te kan bevestig.
Wees versigtig
Die gemeenskap is vroeër ook gevra om versigtig te wees maar kalm te bly en nie lukraak gerugte op sosiale media te plaas wat hulle gehoor het nie. Vind eers uit of inligting betroubaar en korrek is.
Volgens die polisie was hierdie ‘n geïsoleerde voorval en is dit deur die Ceres GKS-eenheid ondersoek.