023 316 2021/3

VOLG ONS

Verdagtes later in Hooggeregshof

June 27, 2016

DIE twee mans wat verdink word van die moord op ‘n bejaarde vrou van Wolseley, se saak sal eers later in Kaapstad Hooggeregshof aangehoor kan word.
Die bejaarde Edna Dorothy Brooks, was ‘n tyd lank in 2015 vermis en haar liggaam is later in Bainskloofbergpas gekry.
Twee mans van Wolseley, Abraham Hanekom (23) en Adriaan Philander (27), is in verband met die moord gearresteer en moet weer op 29 Junie in die Ceres landdroshof op aanklagtes van roof met verswarende omstandighede asook moord verskyn in afwagting van ‘n hooggeregshofdatum. Beide bly in aanhouding.
‘n Derde verdagte, Cushon Domingo (31), is ook gearresteer maar die saak teen hom is deur die staatsaanklaer teruggetrek.
Agtergrond
Brooks is Vrydag 18 September 2015 laas lewend gesien waar sy uit die Waverley hotel op Wolseley gestap het. Volgens die polisie was me. Brooks na bewering ‘n entevreeslyer en kon sy nie vir lang tye in toe plekke wees nie.
‘n Polisiewoordvoerder het later gesê dat die Wolseley polisie Maandag 21 September in kennis gestel is van ‘n VW Golf met vervalste nommerplate waarop die Parow SAPD beslag gelê het.
Met nadere ondersoek is gevind dat die VW Golf met ‘n vervalste CY nommerplaat in werklikheid aan Edna Dorothy Brooks behoort.