023 316 2021/3

VOLG ONS

Vier vas na inbraak by kafee

July 3, 2016

VIER inbrekers is na goeie polisiewerk, vasgetrek vir die inbraak by ‘n kafee op Ceres.
Maandag 20 Junie omstreeks 21:00 het inbrekers by Parker se Sunrise kafee in Lyellstraat ingebreek en kontant asook sjokolade en sigarette gesteel.
Die diefstal is op 21 Junie aangemeld waarna polisie gou twee verdagtes gearresteer het.
Nog twee verdagtes is op 24 Junie bygevoeg. Die vier: Mariska Gouws, Zandry Alexander, Selvin (Sagga) Weitz en Winston Zimri, het vlugtig in die Ceres landdroshof verskyn. Borg van R500 is toegestaan.
Die vier moet weer op 27 Julie in die landdroshof verskyn.
Moord
Die polisie op Wolseley ondersoek ‘n moordklag.
Verlede Dinsdag 21 Junie omstreeks 20:45, was daar ‘n gestryery tussen twee mans op die plaas Welgemeend buite Wolseley.
Die stryery het in ‘n bakleiery ontaard waarna die een man die ander een met ‘n mes begin steek het.
Kevin Manies (29) is in die gesig en nek gesteek voordat hy op die toneel inmekaar gesak en aan sy wonde beswyk het.
Denzil Rooi (25) is gearresteer op ‘n saak van moord en is tans in aanhouding. Die saak is uitgestel na 19 Julie in die Wolseley landdroshof.