023 316 2021/3

VOLG ONS

Grapjas se streke laat niemand lag nie

July 17, 2016

‘n GEWESE makelaar van Ceres en ‘n nasionale bekende grapjas, het oornag uit die dorp verdwyn nadat hy talle sakelui, vriende en kennisse na bewering met duisende rande ingeloop het. Hy skuld ook geld aan plaaslike besighede, ‘n munisipaliteit en ‘n bekende bank.
Nico Nel (63) van Maak ’n Las-faam en gewese makelaar by Old Mutual Ceres, het einde Oktober 2015 afgetree. Nou sukkel sy skuldeisers sedertdien om hul geld en rente uit hom te kry. Selfs sy suster en swaer is op sy spoor en het dié in Juniemaand, reeds met Old Mutual hoofkantoor hieroor in verbinding getree nadat sy R1.4 miljoen by hom belê het.
Nel was ‘n plaaslike makelaar wat vanaf 2012-2015 vir Old Mutual gewerk het. Hy het voorheen onder sy eie naam, Nico Nel en genote, as ’n private finansiële adviseur gewerk. Na bewering is daar nog ‘n versekeringsmaatskappy wat besig is om ondersoek in te stel.
Ondersoek
Old Mutual het kort nadat die familielid hul geskakel het en ‘n nasionale tydskrif die storie gepubliseer het, met ’n ondersoek na die bewerings begin.
Jaco van der Merwe, uitvoerende hoofbestuurder van Old Mu­tual Personal Financial Advice, sê hulle het onmiddellik ’n deeglike ondersoek begin om die saak te beoordeel en vas te stel of dit ’n persoonlike familiesaak of Old Mutual se verantwoordelikheid is.
“Indien daar vasgestel word dat kliënte skade gely het weens mnr. Nel se optrede in die loop en binne die bestek van sy mandaat met Old Mutual, sal ons onsself verantwoordelik hou en daardie kliënte vergoed.”
Nel het blykbaar in sy privaat hoedanigheid, buite sy Old Mutual-mandaat, gereël om geld van sommige persone met wie hy noue persoonlike bande het, te leen, te bestuur of te belê.
Opspoor
‘n 76-Jarige voormalige vriend van Nel wat op Onrus woon, het ook sy prokureur opdrag gegee om hom op te spoor en te dagvaar.
Die pensioentrekker, wat anoniem wil bly, het oor die jare R650 000 aan Nel geleen. Nel het die lening aanvanklik terugbetaal. Toe droog die paaiemente ‘n paar maande gelede skielik op. Christie Viviers, ’n Bolandse prokureur, het Nel einde verlede week by ’n woonstelkompleks in Durbanville opgespoor.
Met Rapport se besoek verlede naweek aan die woonstel, het Nel gesê hy gaan nie in die media oor die bewerings teen hom praat nie. Met Die Burger se besoek die week het hy gesê die saak is baie kompleks en is hy besig om met sy prokureurs te praat. Hy en sy familie wil ook nou uitgelos word.
Skuldeisers staan in lang tou
Skuldeisers sal in ‘n al langerwordende tou moet staan. Die afgelope week se publisiteit het talle mense wat ingeloop is, na vore laat kom.
Nel skuld ‘n afgetrede boer van die Paarl, R350 000 nadat dié onder die indruk was dat hy ‘n aandeel in die Karoopoort slaghuis op P.A. Hamlet koop. Volgens ‘n aandeelhouerlys behoort die slaghuis egter aan Nico se vrou, Phoebe, en Johan Herselman.
Nel skuld ook ’n motorbandonderneming op Ceres ‘n klomp geld vir bande.
Verder toon hofverslae dat die Kaapstad munisipaliteit al in 2014 ‘n vonnis teen Nel verkry het weens agterstallige skuld van R11365 en Debtcor het in dieselfde jaar ‘n vonnis teen hom verkry vir die bedrag van R22927. Nedbank het ook vanjaar R53 000 afgeskryf.
‘n Oudkoerantman het R50 000 by Nel belê maar later snuf in die neus gekry toe oudkollegas van hom, hom vertel dat Nico Nel ook by hulle geld geleen het en ’n paar jaar later steeds in gebreke gebly om dit terug te betaal. Hy het byna die geld verloor maar gelukkig dit later teruggekry.
Nel ignoreer die afgelope paar maande talle skuldeisers se oproepe, e-posse en SMS-boodskappe.
‘n Geregtelike verkoping van roerende eiendom sal in Augustusmaand plaasvind by die Ceres balju se kantore nadat ‘n vonnis op 5 Mei in die Ceres landdroshof teen Nel bekom is. ‘n Groot verskeidenheid huishoudelike goedere sal dan verkoop word.

 

 NICO Nel (63) van Maak ’n Las-faam en gewese makelaar by Old Mutual Ceres.


NICO Nel (63) van Maak ’n Las-faam en gewese makelaar by Old Mutual Ceres.