023 316 2021/3

VOLG ONS

Een verdagte vas na plaasroof

July 24, 2016

EEN verdagte is vasgetrek nadat inbrekers ‘n plaaseienaar twee keer binne 24-uur oorval en beroof het.
Plaaseienaar Braam Matthee (60), is twee keer binne 24-uur aangeval en beroof op die plaas Knolvlei tussen Wolseley en Tulbagh.
Matthee het Woensdag 13 Julie omstreeks 17:30 met sy bakkie by die huis opgedaag. Hy het gesien die traliehek is oop waarna drie mans hom oorval en aangerand het.
Die mans het kort tevore by die huis ingebreek. Hulle het hom op ‘n stoel vasgebind en met ‘n byl in die gesig geslaan. Hulle het hom van kontant, ‘n selfoon, klere, ‘n weermagsak en ‘n Capitec kredietkaart beroof en op die vlug geslaan.
Die drie verdagtes van in hul twintigs, het daarna probeer om Matthee se Tata bakkie te steel maar nie een van die mans kon bestuur nie en het hulle naby die huis teen ‘n stuk yster gebots.Die mans het op die vlug geslaan.
Matthee het hom later losgewikkel en by ‘n naburige plaas hulp soek waarna die Wolseley en Tulbagh plaaswag en polisie ontbied is.
Donderdagoggend omstreeks 05:30 is ‘n verdagte, Teboho Lestika (28), vasgetrek met die gesteelde weermagsak in sy besit. Hy is aangekla en het Vrydag 15 Julie vlugtig in die Wolseley landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding en het Dinsdag 19 Julie in die hof verskyn waarna die saak uitgestel is na 26 Julie vir ‘n borgaansoek.
Die polisie soek na drie Afrikaans-sprekende mans. Een is ‘n rastafarier en die ander twee tussen 12-19 jaar oud.
Tweede roof
Vier mans met balaklavas op, het Donderdag 14 Julie vir ‘n tweede keer by die Knolvlei plaashuis probeer inbreek.
Die voorval het omstreeks 21:30 plaasgevind terwyl Braam Matthee geslaap het. Hy het wakker geword nadat inbrekers ‘n slaapkamerruit gebreek het.
Die vier verdagtes het hom oorval en met die vuis in die gesig geslaan. Hulle was besig om vleis, DVD’s, CD’s en ornamente te steel toe die bure opdaag.
Die mans het op die vlug geslaan.
Indien die gemeenskap oor enige inligting beskik, kan hulle a.o. Theresa Louw skakel by (023) 231-8015 of 076-0294-962.