023 316 2021/3

VOLG ONS

Moordenaars kry lewenslange vonnis

July 31, 2016

TWEE van die vier mans wat ‘n P.A.Hamlet inwoner in 2014 vermoor het, is verlede week lewenslange gevangenisstraf opgelê in die Ceres rondgaande hooggeregshof.
Mkululi Nteta (38), is skuldig bevind aan moord en verkragting op Riaan Maart maar het voor vonnisoplegging gevlug. Die polisie soek hom sedertdien en indien daar mense is wat weet waar hy hom bevind, kan hulle die polisie by (023) 313-3133 skakel.
Regter Robert Henney het die oorblywende drie verdagtes, verlede Vrydag swaar gestraf. Monde Tanani (34), ‘n neef van die voortvlugtige Nteta, en Patrick Ndzongana (53) van P.A. Hamlet, is twee keer lewenslange gevangenisstraf opgelê vir hul aandeel in die moord en verkragting van Riaan Maart (27). Die vierde aangeklaagde, Apiwe Diliza (20), was ‘n minderjarige tydens die moord. Regter Henney hom 15 jaar effektiewe gevangenisstraf opgelê. Versagtende faktore wat in sy guns getel het sluit in dat hy minderjarig was, hoe hy groot geword het en dat hy nie uit op borgtog was nie en reeds meer as 2 jaar agter tralies deurgebring het.
Agtergrond
Riaan Maart was die betrokke aand in September 2014, onderweg van ‘n partytjie toe die vier mans hom voorgekeer het by die bruggie tussen Fase 4 en Fase 3. Die vermoede bestaan steeds dat hulle hom moontlik met iemand anders verwar het.
Die mans het hom verdink dat hy hulle vroeër met ‘n vuurwapen van ‘n motorbattery beroof het nadat hulle langs die pad gaan staan het. Die voertuig het aan Nteta behoort.
Maart is aangerand, gemartel en later vermoor voordat sy liggaam by die brug afgegooi is. Maart se liggaam is die volgende oggend deur plaaslike inwoners gevind.
Goeie speurwerk
Goeie speurwerk deur lede van die P.A. Hamlet polisiediens, het daartoe gelei dat die vier mans in hegtenis geneem is weens die moord.